22
May

Die jippo-guts in Braam se kraag

Ek en Safari en Braam ken mekaar al van kleins. Alhoewel hulle twee in ‘n ander skool was, het ons mekaar gereeld gesien - ons pa’s het vir dieselfde mynmaatskappy gewerk. Dit was dus lekker toe ons die dag die bus klim army toe, en al drie van ons uitvind ons bestemming is 8 SAI Bn in Upington. Na ‘n week of twee daar, is ons al drie gekeur vir JL-opleiding by die Meg Leiervleuel in Bloemfontein, en op die ou einde is ons al drie toe ook opgelei as Tenkafweer-instrukteurs. Nog steeds het ons bymekeaar gebly. Ons al drie het tweede luitenante geword, en ons is saam uitgeplaas 61 Meg Bn Gp op Lohathla toe. Daar het Safari 71 geword, ek 72 en Braam was 73 - ons roepseine. Saam het ons soos bloedbroers ge-operate.

Hier êrens in 1993 was daar ‘n lekker groot oefening op Lohathla, en ons klomp is vir ‘n klompie weke veld toe. Die tenkafweerpeloton se groepe is afgedeel aan die verskillende sub-eenhede wat aan die oefening deelgeneem het, wat tot gevolg gehad het dat ons mekaar nie veel gesien het nie. Toe ons dus een middag die geleentheid vir ‘n vinnige bymekaarkom en vleisbraai kry, het ons die geleentheid met ope arms aangegryp.

As ek reg onthou, was dit by Malansrus se plaashuis. Ons het bykans gelyk uit drie verskillende windrigtings daar aangekom. Na die gebruiklike groet en oor en weer kla oor die kak lewe in die veld, het Braam gesê hy sal ‘n veltie moet gaan vat, want sy maag is niks lekker nie. Braam het een van die onstabielste mae gehad wat ek van geweet het. Vir absoluut geen rede is dinge bo of onder uit nie. Glad nie lekker nie. Anyway…

So sit ons drie toe af daar in die plaasdam se rigting, elkeen met ‘n rol witgoud onder die arm en ‘n radio oor die skouer. Die witgoud was verpligtend; die radio’s net in case iemand ons op die lug soek. Agter die plaasdam kry ons toe ‘n gerieflike lappie aarde wat sou deug vir die bemestingsplanne wat ons in gedagte gehad het, en die groot uittrek begin.

Synde dat ons in tenk overalls was, was so skyttery nogal ‘n proses. Eers moes jy jou bootse losmaak en uittrek. Daarna het jy jou skouers en arms uit die overall gewikkel, dan been vir been uit die overall geklim totdat jy kaalgat of net in jou onderbroekie daar op die vlaktes gestaan het. (Na jou eerste veldoefening leer jy gou om nie onderbroeke te dra nie…)

En daar squat ons drie toe. Braam se maag was egter in so toestand dat hy nie die uittrek-ding kon doen nie - daar was net nie tyd daarvoor nie. Hy het maar net sy overall van sy skouers afgepluk, ge-squat en laat waai. Lekker rustig, op ons hurke, sigaret in die hand, sit en skyt ons drie toe. Braam vertel van die jippo-guts wat sy groep die laaste paar dae gehad het. Van troepe wat by die Ratels se luike uithang en spuitpoep teen die Ratel af, tot sy drywer wat tydens ‘n lewendige aanval in ‘n ratpack-boksie sit en skyt - sommer so in die ry. Nie lekker nie; nie mooi nie!

Skielik skree een van die korporaals benoud dat die kompaniebelvoerder vir Braam op die radio soek, en ons maak aanstaltes om klaar te maak. Braam glip sy arms by sy overall se armpype in, en met een rukbeweging pluk hy sy overall oor sy skouers, en daarmee saam, ‘n kraag vol maag! Want sien, Braam het toe nie so lekker gekorrel met die dat hy nie sy overall heel uitgetrek het nie!

Die skyttery was orals! Oor sy rug. Oor sy skouers. Om sy nek. Teen sy wange. En Braam raak bleek. Wasbleek. En toe spoel hy sy maag weer ‘n slag uit. Mondelings. En toe hy ‘n kat skiet, toe skiet Safari saam. En ek join toe ook in die geskietery. En daar staan ons drie jong luitenante toe - heerlik aan’t kots! Een met kak besmeer, en die ander twee uit simpatie - kots, kots, kots.

Braam was nogal blitsvinnig uit sy overall en bootse uit, en met ‘n boog binne in die plaasdam in. Nadat hy homself behoorlik gewas het, het hy uitgeklim en die overall ‘n behoorlike was gegee. Later het ons ons hopies deeglik met sand en klippe bedek, en stadigaan terug Ratels toe gegaan. Bleek, maar dik van die lag vir Braam se tragedie!

Die res van die eenheid het so uur later ook daar opgedaag. Ons het lekker vleis gebraai en ‘n slag behoorlike kos geëet. Na ete het die RSM al die troepe bymekaar gekry en hulle aangesê om hulle waterbottels te gaan volmaak uit die plaasdam uit. Troepe verontagsaam nie sommer ‘n RSM se opdrag nie, en daai dag was geen verskil nie.

Ons drie skytters het tjoepstil gebly. Dis ‘n doodsonde om drinkwater te besmet - veral as jy ‘n soldaat is. Vir die res van die oefening het ons oorleef op bier uit die veldkantien uit.

Op die foto (vlnr): Korporaal Ridley, korporaal Rosen, onbekende MP-korporaal, Safari, onbekende korporaal. Ek kon ongelukkig nie ‘n foto van Braam opspoor nie. Dalk beter so!

‘n Voorbeeld van ‘n tenk overall… ‘n Blikkie bullybeef vir middagete - in die skadu van ‘n Ratel se deur.

21
May

Hitler en die vreemde vark

Oom Johan van Rooyen vertel dat hy destyds, nadat hy klaar was met die weermag, besluit het om saam met sy pa te gaan boer.  Hulle het ‘n plaas daar naby Bethlehem in die Vrystaat gehad, en kort voor lank het hy ‘n mooi varkboerderytjie op die been gehad.  Een more het hy besluit om ‘n klompie varke vendusie toe te vat.

Die varkies is uitgesoek, en die ongelukkige swyne wat bestem was vir polonie, is een vir een agter op die lorrie gelaai.  Die “lorrie” was ‘n Peugeot 403 bakkie, kompleet met ‘n tuisgemaakte hok agter op die bak, sodat die varkies nou nie in die ry kon afklim nie.  So gesê, so gedaan, en daar val hulle toe in die pad.  Maar oom Johan het vir hom geselskap saamgevat.  Sy getroue ou hond, Hitler, was ‘n reus van ‘n Bull Mastif.  En waar die baas gaan, daar het Hitler altyd saamgepiekel.  Die dag sou geen uitsondering wees nie.

Oppad vendusie toe, besluit oom Johan om eers gou by ‘n buurman aan te doen.  Na die gebruiklike koppie koffie en gesels oor die weer, word daar besluit dat een van die buurman se varke ook vendusie-gereed is.  En oom Johan bied aan om die vark saam te vat.  Die 403-”lorrie” word toe voor die varkhok getrek, en die buurvark word met ‘n gesukkel gelaai.  Intussen lê Hitler baie geduldig voor in die Peugeotjie die spulletjie en gade slaan.

En toe daai vark eers gelaai is, en die nodige kennismaking met die ander varke gedoen is, bars daar pandemonium uit!  Die varkkak was behoorlik in die fên!  Onervare jong varkboer wat hy is, het oom Johan nie geweet varke hou nie van vreemdelinge in die trop nie.  En daai dag was geen uitsondering nie.  ‘n Helse geveg breek onder die varke uit!

Buurvark is in die volslae minderheid.  En die ander varke het nie genade saamgebring nie - hulle byt!  En buurvark is all over die 403′tjie se bak, maar nêrens is daar uitkoms nie.  Die kontrêpsie oor die bak was ‘n goeie joppie.  En toe sien buurvark sy uitkoms…

Die 403 het so klein, ovaal agterruit gehad, en buurvark besluit dis die pad om te gaan.  Hy hardloop toe daai agterruit des moers, en wriemel sy ronde lyfie in die 403 se kajuit in, en weg van die vreemde skerp tande.  In die wagtende stel byters van Hitler in!

Hitler was nogal gesteld op sy spasie links van die bestuurder.  Enige indringing sou met die felste teenstand begroet word, en daardie dag was geen verskil nie.  En daar is Hitler en buurvark aanmekaar!  ‘n Geveg tot die tot die dood toe!  En al wat buurvark wil hê, is om uit die Peugeot uit te kom en rustig op die buurplaas sy bestaan voort te sit.

Om Johan sê hy weet nie wat hom besiel het om die bestuurderskant se deur oop te pluk nie.  Dalk het hy besef die varkie se tyd is min, en om om te hardloop na die ander deur toe, sou buurvark se einde beteken.  Toe ruk hy maar die naaste deur oop.  Buurvark sien in die rumoer die uitkoms, en laat spaander met sy ronde lyf na die nuwe vryheid.

Hitler het hom nog so tree of tien gejaag, net om die boodskap mooi duidelik by die vreemde vark tuis te bring, en toe die aftog geblaas.  Uiteindelik het daar weer vrede op die werf neergedaal.  En in die daaropvolgende stilte besef oom Johan toe skielik sy fout:  buurvark en Hitler het met die ontsnapslag die ou Peugeotjie se hele stuurkolom afgehardloop!  Die lê so vyf treë van die bakkie af - kompleet met stuurwiel en rathefboom!  Asof Bethlehem se beste mechanic hom self uitgehaal het!

Geen vark het daardie dag die vendusie gesien nie…  Oom Johan ook nie, en nog minder Hitler.

20
May

Amper daar

In die gees van die introspeksie-fase wat ek tans beleef…

Ek ontrafel jou
stukkie vir stukkie
hopend
om êrens in die middel
myself weer te vind

19
May

Daar’s altyd tyd

My oupa, wie se name ek dra, het homself fisies doodgewerk. No jokes. Hy was nogal ‘n ‘n snaakse karakter. Hy het ‘n hart van goud gehad, maar ongelukkig was dié so suiwer, dat dit te sag was om die stres en ure te hanteer. Ek onthou baie goed hoe hy telkens na ‘n hartaanval met een van sy werkers gereël het om sy bakkie by die hospitaal te kom parkeer.

Sodra hy gevoel het daar lê nie meer ‘n klip op sy hart nie, het hy sy lyf Houdini gehou. Die saal waar hulle hom altyd “aangehou” het, het ‘n buitedeur gehad, en Oupa het ‘n sleutel vir daai deur gehad. Wanneer niemand kyk nie, het hy drip en al verdwyn - bakkie toe. En van daar af was dit reguit werk toe! Wanneer my ouma of een van die verpleegsters weer ‘n draai in die kamer gaan maak het, was Oupa weg.

En dan kon jy maak wat jy wou! Met die drip aan ‘n trollie gehang, het hy op en af geskarrel in sy werkswinkel. En nie ‘n honderd wilde perde sou hom daar kon wegsleep nie. Daar was werk om te doen! Ek onthou baie goed toe ek in standerd ses was het hy weer ‘n hartaanval by die werk gehad. Hierdie keer het die dokters hom afgevoer Kimberley toe. Daar sou hy nie kon wegloop nie! Dalk het dit sy spirit finaal gebreek. Hy het nooit lewendig uit daai hospitaal uitgestap nie…

As kind en jongman was sy werksetiek en -vermoë vir my die benchmark. Almal het altyd gepraat daaroor. Wildvreemdelinge wat ek deur die jare ontmoet het, het my attent gemaak daarop. Almal het altyd net die hoogste bewondering vir hom gehad. Maar daar is iemand wat hom klop. My pa.

My pa is die stil tipe. Amper nors, as jy hom nie ken nie. Maar hy is ‘n meester in sy vakgebied! Ek kan vir ure lank na hom sit en luister, en lesse by hom leer. En hy KAN werk! Fisiese, harde handewerk. Daarvoor het hy nog nooit geskrik nie. En hy is so sterk soos ‘n bees! Hy was deel van die eerste burgermag-groep wat opgelei is as valskermsoldate in Suid-Afrika, destyds onder die wakende oog van (later kolonel) Jan Breytenbach. Hy het daardie tyd sy ma se handtekening vervals op ‘n toestemmingsbrief om valskermsoldaat te kan word - hy wou met alle mag uit vliegtuie spring!

Hy word vanjaar 65 jaar jonk, en hy het nog steeds nie sy brieke gevind nie. Soggens staan hy vyf-uur op vir werk, en saans kom hy net voor ses by die huis. Meeste naweke werk hy ook. Sedert my ma se dood so bietjie meer as ‘n jaar gelede, het ek gedink hy gaan so bietjie begin afskaal. Watwou! Nie Dad nie! So paar weke terug was hy verplig om verlof te neem. Op dag drie het ek al gesien dat hy geïrriteerd raak met die stilsit! Ons het altwee ‘n helse sug van verlugting geslaak toe sy verlof uiteindelik verby is.

Riaan vra in ‘n opmerking waar ek die tyd kry vir nog ‘n blog. Ek het by hierdie twee mense hierbo geleer dat daar altyd tyd is vir nog iets. Al beteken dit twintig ure ‘n dag op kantoor. Dit kan gedoen word. Ja, ek word baie daarvan beskuldig dat ek nie ‘n lewe het nie. Wat waar is - ek kan nie onthou wanneer laas ek ‘n regte, egte, vakansie gevat het nie. My “geluk” is dat ek nie ‘n vrou of kinders het nie. Ek het my pa, Koevoet en Stoffel. Eersgenoemde werk ook sy gat af, en die ander twee bly lief vir my, al sien hulle my net eenkeer per dag wanneer ek hulle kos- en waterbakke volmaak.

Dalk dryf die herinneringe en voorbeeld van ‘n oupa en pa my. Dalk is dit net in ons bloed. Wat dit ookal is, maak seker nie saak nie. Feit is - ons kan. En ons doen. Ek sien dieselfde in my broers. (Oukei, nie aldag jy nie, Vlad! ;-) ) Maar werk is lekker. Hardwerk is nie ‘n skande of ‘n sonde nie. En solank jy niemand afskeep nie, is dit seker ook nie ‘n probleem nie. En wie weet, dalk kan ek oor tien jaar van nou af aftree, en die wêreld met ‘n motorfiets gaan platry.

Of dalk net naweke tyd maak daarvoor…

18
May

Boer en sy roer

“Boude in. Bors uit. Skouers terug. Lig jou fokken ken!”

Dit was seker elke korporaal se standaard sê-ding op ‘n paradegrond. Toe ek hierdie video gister weer kyk, het ek daai gevoel gekry…

17
May

Is jy blogger genoeg…?

Is jy blogger genoeg om die reuse van LitNet aan te vat???!!!

Hier’s jou kans!  LitNet het nou sy eie blogs, en ek het die challenge opgeneem!  Wel met voorbedagte rade, maar tog… ;-)

En jy?  Gaan jy ook ‘n bloggie daar begin?  Ekself sal net so eenkeer ‘n week daar blog - dalk is ek gelukkig en kry ek eenkeer die LitNetters so ver om vir my ‘n week se Jack Daniels te sponsor! :lol:

Gaan lees my eerste inskrywing hier/daar/op LitNet….

En let the games begin!




Bobaas Klieks

  • None

Blog Thingies

'n Opinie oor alles!

Toegestofde Wurms...

Flickr Kiekies

the wonders of the beach.

Sticky Finger

Disembark on the beach

yummy pink bokeh

Paradox.

happy (smudgy) bokeh wednesday!

More Photos